"Rules" of Bring and Braai.

"Reëls" van Bring en Braai.

Louise praat vanuit die braaikamer...

Ek en my vriende het nou die dag 'n interessante gesprek gehad oor een van Suid-Afrika se mees gevestigde tradisies; die bekende "Bring en Braai". Die gesprek het gedraai rondom braai-etiket, moets, en moenies, slegte en goeie braaiers en hout of houtskool. Die gesprek was so warm soos die kole.

Van die mense het gevoel hoewel “Bring en Braai” ’n sogenaamde tradisie in Suid-Afrika is, is dit vir hulle die toonbeeld van slegte maniere. Hulle voel as jy nie iemand vir 'n stukkie boerewors, 'n tjoppie of 'n hoenderboud uit jou eie sak kan nooi nie, moet hulle nie nooi nie. Glase is vinnig en gedurig leeggemaak oor hierdie saak, en dit was duidelik dat daar geen middeweg oor hierdie kwessie was nie.

My argument was dat nie almal dit kan bekostig nie, maar hulle wil sosiaal verkeer met hul vriende, en ons moet dalk meer klem lê op die bou van goeie vriendskappe. Dit haal ook die druk van jou af as iemand jou nooi en kreefstert of filet steak bedien, jy hoef nie verplig te voel om dieselfde te doen as jy hulle nooi nie, want dit is nie in almal se begroting nie. Wie braai in elk geval steak sonder vet? - Ek het gevra.

As dit by goeie maniere kom, is 'n braai nie vir my anders as wanneer iemand my sou nooi vir 'n gereelde sit-ete nie. Al die gewone goeie maniere geld, soos moenie uitpass op die gasheer se bed nie en so aan....

Die verskil is dat die sjef die kos vir jou kook terwyl jy hom dophou en dink "ek sou dit nie so gedoen het nie!". Die ou met sy rug na jou toe klik-klik gedurig op die braaitang om sy stres te verlig, want hy weet jy kyk na hom. Die arrogante (gewoonlik slegte) braaier dink jy probeer sy geheime tegnieke met jou oë steel; die onervare braaier bel sy vrou ongemerk om te hoor of die vleis gaar is; en die grootprater kan nie wag dat jy vir hom die marinaderesep vra sodat hy kan sê: "Nee sorry Pappie, dis my geheim". Dis wanneer ek lus is om te sê: “Ag man, enige aap kan rooiwyn met Jimmy se Sous gooi en dit ’n geheim noem” en rol my oë.

In elk geval, kom ons wees gaaf en wys ons goeie maniere 😃

Nooit :

  • Kla oor die musiek of druk jou eie CD in.
  • Gee die braaier raad oor hoe om te braai.
  • Kritiseer die braaier se speserye, marinade, sous of vleissnitte.
  • As jy gaan sit, sê vir hulle jy is 'n Banter en veroordeel die braaitoebroodjies.
  • Bring ongenooide gaste, tensy die gasheer gesê het dit is ok. Eintlik vra jy nooit of jy gaste kan saambring wanneer jy genooi word nie.
  • Moenie oor die braaier se boerewors spekuleer nie, nooit. Tensy jy sê dis heerlik.
  • Moet nooit 'n ander man se vleis omdraai nie, al sit hy in die “kleinhuisie” vas.

Jy moet:

  • Kyk goed na die braaier se behoeftes en maak seker sy glas is vol.
  • Lag altyd hard en oortuigend vir die braaier se grappies.
  • Vra of jy kan help met die dek en skoonmaak van die tafel.
  • Sê vir die braaier na die ete dat hy 'n Meesterbraaier is.
  • Begin bel en tel jou kinders wanneer die gasheer begin gaap of koffie aanbied. Tensy dit Ierse koffie is …. dan kan jy wag vir nog een voor jy kinders tel.

En onthou: “Ons gaan braai” beteken nie noodwendig “eet” nie. Dit is 'n proses. Dit neem tyd. Tyd om te sosialiseer. Kosbare tyd saam met vriende en familie. Geniet elke oomblik.

Goed, dis my blog oor “Bring en Braai”. U is welkom om hieronder kommentaar te lewer. Dankie dat jy deel is van ons "braai" gemeenskap .

Blog deur Louise Groenewald - Groepreseptekundige en Admin by “Braai - Slaai - Potjie - Lawaai” (Facebook).

 

Terug na blog

2 opmerkings

We love braai, the more the merrier. Bring and braai makes it possible for us to socialize with our friends and family on a regular basis.

Enrico

Pragtig beskryf. Ek glo ook braai bring mense bymekaar. Maar soos die Ingelse sê: It takes all sorts of people to fill up this world – so doen maar jou braai op jou manier. Hierdie topic gaan beslis op die “agenda” van ons volgende “Bring & Braai” wees!

Brandon Gouws

Los kommentaar